ZZ2 Tamatiesoorte

KLASSIEKE RONDE TAMATIE

Voorkoms

Die klassieke ronde tamatie is ‘n groot ronde tamatie en word in Suid-Afrika as stapelvoedsel beskou. Al die variteite in dié klas word as LSL (long shelf life) gekenmerk. Geen genetiese gemanipuleerde produkte (GM) word verbou nie. Die gemiddelde gewig wissel tussen 70g en 150g en is 50mm tot 70mm in deursnee.

Gebruik

Sy gebruike is veelsydig en sy raklewe uitstekend. As gevolg van sy grootte is hierdie tamatie ideaal vir toebroodjies en hamburgers. Smaaklike tamatiesmoor is ook altyd ‘n wenner! Vir verwerkte tamatieprodukte, soos pasta- en tamatiesous en tamatiesap is die groot ronde tamatie ‘n ekonomiese keuse.

RANKIE-TAMATIE

Bacio & Favo
Voorkoms

Die tamaties word as ‘n trossie gepluk en die vruggies word nie van die stingel verwyder nie. Dié tamaties, ook bekend onder die handelsname, Bacio en Favo, het koeëlronde vorms, het ‘n bloedrooi (Bacio) en goue (Favo) kleur en het ‘n heerlike soet en egte tamatiesmaak.

Gebruik

Die Bacio en Favo het albei ‘n sagte skil en is fantasties vir braai, in slaaie of selfs net so as ‘n soethappie. Dié tamaties is gewild onder diegene wat kreatief in die kombuis is. Dit is ook gewild as ‘n bykos wat in die oond gerooster word.

MINITAMATIES

Romanita, Spanish Santé, Yellow Drop, Medley Mix, Roma
Voorkoms

Minitamaties kom voor in ‘‘n verskeidenheid van kleure wat wissel van dieprooi (Romanita en Santé), bruin en pienk (Medley Mix) tot heldergeel (Yellow Drop). Hulle is ietwat ovaalvormig en kan tot verskillende groottes groei.

Gebruik

Hoewel die tamaties ‘n verskeidenheid van gebruike het, is dit veral gewild as ’n varsproduk, soos in slaaie, of as ‘n peuselhappie.

Verpakking en handelsmerke

KLASSIEKE RONDE TAMATIES

ZZ2 se klassieke ronde tamaties is die grootste van ZZ2 se tamatiereekse en is die hart van ZZ2 se verkope landwyd. Dié tamaties is veral gewild onder handelaars in die informele sektor weens die uitstekende raklewe van die variëteite wat verbou word.

Die verpakking van die klassieke ronde tamaties word volgens die behoeftes van die verskillende marksegmente bepaal binne die raamwerk van bepaalde klasse.

Die alombekende tamatiesakkie is in 750g (links bo), 1kg en 2kg sakkies (regs bo) beskikbaar. Die sakkies is landwyd in supermarkte en in grootmaat (ZZ2 “carry boxes”) op nasionale varsproduktemarkte, beskikbaar.

Die tradisionele sespak-tamaties, die sogenaamde Z6, word in ‘n polistireenbakkie gepak en met kleefplastiek toegevou. Dit bly steeds een van ZZ2 se gewildste verpakkings. Die vrugte in die verpakking word beskerm deurdat dit nie beweeg nie, en dus nie maklik kneus, voordat die produk by die verbruiker uitkom nie. Die Z6 is in supermarkte beskikbaar asook in grootmaat op nasionale varsproduktemarkte.

ZZ2 se heldergeel bokse waarin die klassieke ronde tamaties verpak word, het ikoniese status. Die bokse is duursaam en word deur verbruikers regoor Suider Afrika vir verskeie funksies hergebruik; van bêreplek vir los items, tot verkooptoonbanke by informele handelaars. Die bokse kom in drie groottes: 3kg -, 6kg – en 9kg. Dit is slegs op nasionale varsproduktemarkte beskikbaar waar dit deur supermarkte en kleinhandelaars aangekoop word.

 

Los tamaties word op nasionale varsproduktemarkte in kratte van 20kg verkoop. Dié manier van verkoop behels geen wegdoenbare verpakking nie en is die mees ekonomiese manier om ZZ2 se klassieke ronde tamaties te bekom. Daarom is dit veral gewild onder straatverkopers en verbruikers in die informele sektor. Die krat word slegs gebruik om die tamaties te vervoer en is nie deel van die aankope nie.

ROMANITA

Romanita is ‘n minitamatie wat in twee verpakkings beskikbaar is: ‘n 500g sakkie en ‘n 250g “snack cup”. Hierdie tamaties word aan supermarkte regoor Suid-Afrika gelewer en is in grootmaat, verpak in die sakkies en koppies, op nasionale varsproduktemarkte beskikbaar. Hier is die sakkies en koppies in grootmaat in geel ZZ2 “carry boxes” verpak (16 sakkies per boks en 11 koppies per boks).

Romanita beteken ‘gees van Rome’ en is regdeur Suid-Afrika beskikbaar en baie gewild. Die daaglikse aanvraag vir hierdie tamatie is sowat 25-30 ton. Alhoewel hierdie tamatie se gebruike veelsydig is, word dit oor die algemeen vars, soos in ‘n slaai, bedien. Dit bring ook ‘n diep rooi kleur in tuisgemaakte souse uit.

SPANISH SANTÉ

Spanish Santé is ‘n minitamatie, maar dit is kleiner as die Romanita, en effe soeter. Santé kom in twee tipes verpakkings: ‘n 200g deursigtige “punnet” asook 175g “snack cup”. Dit is in supermarkte beskikbaar en landwyd in grootmaat, klaar verpak, op die nasionale varsproduktemarte. Santé is die Franse woord vir gesondheid.

BACIO

Bacio is ‘n klein rankietamatie en sy bloedrooi kleur is die rede vir sy naam (letterlik uit Frans vertaal beteken Bacio “soen”).

Bacio word in die sogenaamde “boat tray” van 350g verpak. Die “boat tray” bied uitstekende beskerming aan die vrugte. Dit is by supermarkte beskikbaar asook by nasionale varsproduktemarkte vir grootmaat-aankope.

MEDLEY MIX

Medley Mix is die innoverende verpakking van vyf minitamatie-variëteite wat spesiaal gekies is om die verskil in kleur, grootte en smaak te beklemtoon om ‘n heerlike, prettige en geurige gereg te skep. Die Medley Mix kom in twee verpakkings, ‘n “punnet” van 600g en ‘n “carry bag” van 600g. Dit is landwyd in supermarkte en op nasionale varsproduktemarkte beskikbaar.

Beskikbaar regdeur jaar

Een van ZZ2 se unieke eienskappe is die vermoë om regdeur die jaar beduidende volumes te lewer. Weens die kontinuïteit in produksie, is ZZ2 ‘n gesogte verskaffer van tamaties aan supermarkte en varsproduktemarkte. Verbruikers en aankopers op Suid-Afrikaanse markte voel gerus dat daar altyd ZZ2-tamaties beskikbaar is. ZZ2 dra by tot voedselsekuriteit.

Houtbosdorp (Olyfberg)

MOOKETSI – Lente- en herfsproduksiegebied

  • Bestaan uit ooplandproduksie and 90ha nethuis- of beskermde verbouing.
  • Keuse van kultivars word gedoen op grond van kwaliteit, aanpasbaarheid, betroubaarheid en vatbaarheid vir siektes en peste, die mark waarvoor dit bedoel is en die planttyd.
  • Optimale drupbesproeiing en boordontwerp sorg vir hoë opbrengste per hektaar.

POLOKWANE – Somerproduksiegebied

  • Tamatieverbouing presteer op sy beste tussen temperature van 20ºC en 24ºC. Dié koeler temperature van die Hoëveld bied uitmuntende klimaat in die somer.
  • Hierdie gebied bestaan uit oopland-produksie en nethuis- en groenhuis-verbouing.
  • Tamatielande word vir vyf jaar gerus voordat dit weer vir verbouing gebruik word. Rotasieverbouing is die beste manier om grond te herstel en plante teen peste te beskerm.

WATERPOORT, PONTDRIFT en MUSINA – Winterproduksiegebied

  • Dié rypvrye winterproduksiegebied is noord van die Soutpansberg in die Limpopo-provinsie geleë.
  • Twee van die gebiede, Pontdrift en EsméFour is teenaan die die Limpoporivier. Op EsméFour, sowat 60km oos van Musina, is die nodige infrastruktuur waaronder ‘n moderne pakhuis waar die tamaties verpak en ook verkoel word voordat die lang tog na die markte aangepak word. Nog ‘n pakhuis is in die Waterpoort-area naby Louis Trichardt.
  • Die gebied beslaan beskermde verbouing en ooplandverbouing.

Intensifisering van produksie

Tamaties vereis verbouing binne ‘n sesmaande-venstertyd waarin die vrugte tot volwassenheid groei – vanaf land tot bord. Die meeste tamaties word in ooplande verbou, maar ZZ2 beweeg toenemend na nethuis- en groenhuisverbouing.

Oopland-verbouing

Die intensiewe aard van tamatieverbouing sorg daarvoor dat ooplandproduksie steeds ‘n belangrike rol speel. Die verbouing op ooplande skuif saam met die seisoene ten einde die beste klimaat vir verbouing te benut. Die vyfjaar-rotasielantplan per landery beteken dat grond goed kan herstel voordat ‘n spesifieke land weer geplant word. Die praktyke is alles in pas met Natuurboerdery® se beginsels om grootskaalse produksie moontlik te maak sonder om die omgewing skade te berokken.

Nethuis- en groenhuisverbouing

Die voordele wat beskermde verbouing bied, is legio. By ZZ2 word toenemend na nethuise en groenhuise omgeskakel. Dit bied die voordeel dat die omgewing van tamatieverbouing beheer kan word. Buiten dat nethuise verhoogde produksie lewer, bied dit ‘n ideale omgewing om navorsing te doen van onder meer die mees voordelige plaagbeheer, plantbeskerming en plantvoeding.

Natuurboerdery®

ZZ2 se manier van boer word Natuurboerdery® genoem. Dit is ‘n geregisreerde handelsmerk wat aan die verbruiker waarborg dat die kos wat op ons plase geproduseer word, aan gesondheids- en etiese standaarde voldoen.

Natuurboerdery® gefundeerde boerderypraktyke en –prosesse is gemik op beste tegnologie in harmonie met die wette van die lewende natuur, waarvan die belangrikste waarskynlik effektiwiteit en aanpasbare volhoubaarheid is. Dit kan ook beskryf word as die wegbeweeg van “harde” industriёle boerderykonsepte deur die insluiting van die meer sinvolle konsepte van organiese boerdery. Natuurboerdery® gefundeerde boerderypraktyke gaan egter verder as landboupraktyk, en bepaal ons hele omgang met die natuurlike omgewing.

Kwaliteit en betroubaarheid

ZZ2 beskik oor ses tamatiepakhuise wat regoor Limpopo geleë is. Die pakhuise word seisoenaal bedryf afhangende van waar produksie plaasvind. Dit beteken dat die vrugte slegs ‘n kort roete aflê om by die pakhuis te kom nadat dit gepluk is. Dié praktyk voorkom kneusing en bied aan die verbruiker ‘n vars produk met die kortste moontlike tydsverloop van die landery tot by die verbruiker.

Ons tref uitermatige sorg tydens die pluk van ons tamaties. Alle vrugte word met die hand gepluk en landassistente ontvang opleiding om nie die tamaties te skaaf of seer te maak nie. Vrugte met defekte word reeds vroeg uit die produksielyn verwyder.

’n Vloot vragmotors staan elke dag gereed om tamaties, onmiddellik nadat dit gepak is, na supermarkte en nasionale varsproduktemarkte te vervoer. Dié betroubaarheid en stiptelikheid van ons distribusienetwerk, het aan ZZ2 ‘n reputasie gegee as verskaffer van varsprodukte van goeie gehalte wat betyds gelewer word.

Aanpasbaar volgens kliënte se behoeftes

ZZ2 se pakhuise beskik oor die vermoë om hul prosesse volgens kliënte se behoeftes aan te pas. Supermarkte se behoeftes ten opsigte van variëteit, volume en verpakkingstipe, wissel daagliks. Dié bestellings word landwyd op kort kennisgewing aangepas, gepak en afgelewer. Om dit te kan doen, beskik ZZ2 oor gespesialiseerde fasiliteite en toerusting om die groot volumes wat deur die pakhuise vloei, te hanteer.

Prysbepalings

Wat bepaal die prys van ZZ2 se tamaties?

ZZ2 is ‘n voedselprodusent. Sodra ons tamaties ons plase verlaat, gaan dit na varsproduktemarkte regoor Suid-Afrika waar die pryse bepaal word deur natuurlike markkragte van vraag en aanbod. Dié proses word deur professionele verkoopslui (agente) buite ZZ2 op ‘n ad valorem kommissiegrondslag bedryf. Sodoende skep ZZ2 bemagtigingsgeleenthede aan ander. Geen tamaties word direk vanaf ons plase verkoop nie.

Voedselveiligheid en etiese praktyke

Rainforest Alliance

Tesco Nurture

BRC (British Retail Consortium)

SIZA

Global GAP

Hoe word pryse bepaal?

How and what determine ZZ2’s tomato prices?

ZZ2 is a grower and producer of food. Once our tomatoes leave the farms, they go directly to fresh produce markets countrywide where the price is determined through the market forces of supply and demand. This process is managed by independent professional sales teams (agents) not employed by ZZ2 and operates on an ad valorem commission basis. Through this system, ZZ2 creates empowerment opportunities. No tomatoes are sold directly from ZZ2’s farms.